Tuesday, March 12, 2024

Resensie | Alwyn Roux - Weerskyn | 2024

Alwyn Roux - Weerskyn. Protea, 2024. ISBN: 978-1-4853-1543-8


Resensent: Joan Hambidge


 

Gedigte as trekkervoëls


Alwyn Roux doseer literatuurwetenskap en kreatiewe skryfwerk aan Unisa.


Vir sy boeiende MA-verhandeling oor Marlene van Niekerk en Adriaan van Zyl se romanteks Memorandum: ʼn verhaal met skilderye (2006) ontvang hy die gesogte Marius Jooste-medalje vir die beste MA-verhandeling in Afrikaans in 2009.

 

Sy doktorsgraad in 2015 handel oor die latere poësie van Breyten Breytenbach en Lucebert vanuit ʼn landskapfenomenologiese perspektief. Beide digters is ook kunstenaars. Lucebert (1924 – 1994) is veral bekend vir die reël: Alles van waarde is weerloos”, wat vele digters in Afrikaans al tot satwordens herhaal het.

 

Hierdie reël was selfs in Rotterdam op ‘n versekeringsmaatskappy op ‘n gebou (wat in neon flikker) geplaas in die tagtigerjare, wat opnuut bewys hoe gedigte reis. Vandag staan dit op drie ander geboue in die omgewing. Lucebert is ‘n figuratief-ekspressionistiese kunstenaar en Breytenbach se kuns (en gedigte) werk met drome en surrealistiese beelde. Beide word aangespreek in gedigte hier.

 

Tans is Alwyn Roux besig met ʼn postdoktorale navorsingsprojek onder die mentorskap van professor Yves T’Sjoen aan die Universiteit Gent. Daar word gefokus op Breytenbach se “om Afrika te verbeel”-projek. Hy is saam met T’Sjoen ‘n belangrike brugbouer tussen hier en die Lae Lande. Dit is alles tersaaklike aspekte om sy digkuns beter te begryp: gesprekke tussen tale en kulture én die digkuns wat altyd direk of indirek verwys na ander gedigte. Hier is dan ‘n digter met ‘n intellektuele belangstelling wat nie skroom om sy intertekste vir ons te gee nie.

 

Die sterk debuut van Alwyn Roux heet Weerskyn. Die kwessie van weerklank (weerklink/ weerskyn/ terugkaats / verskyn) kom hier aan bod in verskillende gedaantes soos “in weerklank van drome en verlange” in die gedig “Teken” (9).

 

“‘n Vreemdeling se graf” (10) gee ‘n weer nuwe blik op die dood en aftakeling.

 

Vele verinheemsings van gedigte (soos Robert Hass se “After the winds” wat hier “Om die gode te verleer” word (15) en Less Murray se “Two dogs” word ‘n genoeglike “Twee honde” (18). Hier aktiveer hy Lawrence Venuti, die vertaalkundige se siening, dat die vertaler die vertaling kan wegstuur óf huis toe kan bring. Die keuse van verinheemsing is opvallend by Roux. ‘n Vertaling gee immers ‘n nuwe lewe aan die oorspronklike vers in ‘n nuwe gedaante: ‘n weerskyn.

 

Herdigtings van byvoorbeeld Edward Thomas met kopknikke na Van Wyk Louw Louw, Opperman en Lucebert gee mooi besinnings vir die leser oor die digkuns as ‘n voortdurende gespreksvoering. Czesław Miłosz is eweneens hier aanwesig met ‘n wrang politieke ondertoon verplaas na ons land. Louise Glück en Theodore Roethke word ingebed; nes Breytenbach en Van Ostaijen. ‘n Kind word aan die slaap gesus op die maat van Ostaijen. Versreëls spoel soos golwe oor die strand (76).

 

Die beeldvers (of portretvers) oor die vader (“Saalopening”, 27) is aangrypend; toe die kind nog onbevange na die vader as ‘n held kon kyk.  In “Doodsberigte”(28) het hierdie selfde pa, wat altyd doodsberigte oorgedra het van ander se dood, nou finaal vertrek. Nou verneem dit leser dit in ‘n pynlik gedig-as-doodsberig. Die vader het gesterf, maar inmiddels versorg die digter self ‘n kind in ‘n weerskyn. En dis wat hierdie gedigte so interessant maak: die spel tussen portretvers, lykdig en reisvers.

 

“My pa se handskrif in beweging oor die vou / en reuk van ou blaaie” wys op die band tussen digter en vader wat verplaas word na die vele digterlike vaderdigters in hierdie bundel.

 

Hier is seksuele herinneringe van ‘n jong mens (“Kelp”, 34) met pront, eerlike verse oor masturbasie vanuit ‘n hetero-perspektief. Dalk ‘n soort aweregse gesprek met Elisabeth Eybers se “Jong seun”? Ons vind in hierdie bundel lykdigte, haikoes, ‘n pantoen, reis- of landskapverse, binokulêre verse, ‘n cinquain, ‘n villanelle en ekfrasis wat daarop dui dat die digter ‘n bedrewe vakman is.

 

‘n Klein liefdesvers lui soos volg:

 

chanson

 

skink woorde, lief, uit die bokaal,

dat ons mekaar besing in taal

geïsoleer, verskans teen nood,

sing ons van laafnis, atonaal (57)

 

*

 

Verwysings na Jacques Lacan, Deleuze & Guattari, Heidegger, onder meer, gee ‘n filosofiese raam vir die leser. Dus emosie teenoor filosofiese besinning.

 

Monet se huis

 

’n vrye vertaling van Deleuze en Guattari (1994)

 

Monet se huis

is eindeloos omsoom

deur die strydkrag

van ’n onbeheerste tuin,

’n kosmos rose. (59)

 

*

 

Voëlbeelde dui op beweging en transformasie hier.  En waarom soveel honde? Dalk ‘n gesprek met Alfred Schaffer?

 

So klink ‘n sentrale vers:

 

Weerskyn

 

Die dag toe die water stil en heimlik vermom as spieël

weerkaats het, vanuit die oog wat lank nie knip nie;

’n digterspen wat eendag lank geskryf en trekkervoëls

as skrif versin het soos hand en hart die skets tot vers

gebring het, vermoedelik geïnspireer in weerskyn

van die skemerlig en rede.

 

Buitekant gesit al kykende na ’n speelse bries

met denne as geleidster; noudat die water ophou roer het

en die dag vermom en verdwyn. Dit wat soos digters om sinne

speur na waarheid en digter sluit. Wat bly oor van beelde

in weerkaatsing? Ek sit die skryfboek weg en kyk

hoe wolke kennelik as wolke oor die breë rivier

beweeg. (88)

 

‘n Digkuns wat beskryf kan word as polifonies of meerstemmig. Inderdaad: wát bly oor van beelde in ‘n weerkaatsing? “Onsigbare stad – Fedora” (45), een van Italo Calvino se “Invisible Cities”, beskryf dit uitstekend. Dit is immers die stad van begeerte en wanneer iets gekonstrueer word, is dit nooit dieselfde as die werklike ervaring nie. Daar is eweneens talle verwysings na argitektoniese strukture.

 

In navolging van Jacques Lacan skryf die digter “Ek dink waar ek nie is nie, dus is ek waar ek nie dink nie” / “I think where I am not, therefore, I am where I do not think” wat opnuut bewys dat die digkuns ‘n paradoksale ding van weerkaatsing of dalk ‘n afdruk is.

 

Hier en daar kon ‘n gedig dalk langer gewees het (soos ‘n vers oor Heidegger of die “onrus”-reeks of “besonne”), maar in die geheel ‘n genoeglike debuut. Dromende denke, soos T.T. Cloete dit benoem het.

 

Moenie kwel nie: die geleerdheid staan nie in die pad van die emosionele register nie.

 

nomade

 

om ruimte te verbeel

behels die buitelyne te bedink

van ’n denkbeeldige struktuur

op bodemlose grond

(’n tentpen tussen sterre ingeslaan) (52)

 

Hierdie leser was opnuut bewus van die enorme bloeityd tans binne die Afrikaanse digkuns met vele stemme, teenstemme en diskoerse.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot en Senior navorser aan die UK. Haar jongste roman heet Stasies (Protea).

 

 

Rubriek | Joan Hambidge - Joslin: ‘Waar reg en verkeerd nie meer bestaan nie’

Die lewe is nie ’n speurverhaal nie, maar hoekom gryp die verhaal van Joslin Smith (6) die publiek so aan? Joan Hambidge vra of dit ’n nuwe weergawe van die Rooikappie-verhaal is.

Op 19 Februarie 2024 verdwyn Joslin Smith.

 

Wat het gebeur? Is sy verkoop aan ’n sangoma? Leef sy nog? Dít is die speurverhaal wat in die hof opgelos sal moet word. Hopelik.

 

Wat my as skrywer interesseer is hoekom ons almal so sterk reageer op hierdie kind se lot?

 

Sy is ’n weerlose, pragtige kind. Klasmaats sit ’n plantjie, ’n kers en ’n foto op haar sitplek in die Diazville Primêre Skool. Hulle glo vas sy gaan terugkeer.

 

En dís hoe dit altyd is. ’n Mens hoop die kind sal terugkeer.

In die hotel waar ek smiddae skryf, verduidelik ’n kelner vir my hoe moetie-moorde werk. Die organe word uitgesny, terwyl die mens nog leef.

 

Ons praat oor die armoede van hierdie mense en hoe die kind waarskynlik verkoop is vir dwelmgeld.



Skoene wat deur die lug vlieg

 

Bloeityd: Verse oor kinders (Tafelberg, 1993) – saamgestel deur Johann Johl en Rika Cilliers – ’n bloemlesing met verse oor kinders – is ’n pragversameling verse.

 

In my somber gemoed herroep ek ander ongelukke én verdwynings wat my beswaard maak.

 

In standerd sewe sien en beleef ek ’n ongeluk. Tydens ’n sogenaamde Lenteloop word 23 kinders beseer en een sterf.

 

Dis 1971. Pretoria. Ek onthou die dooie kind se voet onder die agterste band. En skoene wat deur die lug vlieg.

 

My ouers is die aand nie tuis nie en ons huishulp, Sara, troos my deur ’n slapelose nag. Nou nog as ek die lied “Mamy Blue” hoor, oorrompel die hartseer my.

 

Op 28 Januarie 1979 is daar ’n treinongeluk by Henley-on-Klip. 23 kinders sterf en 16 is beseer toe die bus teen die trein bots.

 

Maar dit is die verhaal van Johan le Roux wat twee ander kinders gered het, wat mense bly aangryp. Hy gooi vir Petrus van der Walt en Willem Nel by die agterste ruit van die bus uit. Hyself sterf.

 

J.C. Steyn het hierdie ongeluk verewig in ’n aangrypende gedig, opgeneem in Die Grammatika van liefhê (Tafelberg, 1975). Só klink die eerste paar strofes:

 

Spooroorwegramp by Henley-on-Klip

 

Henley-on-Klip

stasienaam by Vereeniging:

onwerklike vereniging –

oerengelse samestelling

op Afrikaanse klipbodem.


Henley-on-Klip

skoolbus by spooroorweg

in slaggat gestol

(bloed stol op klip)

’n sneltrein snel voort,

dóód-betyds, dóód


Henley-on-Klip

Hansie-op-gruis

Helena-aan-gras

23 van gras

drié-en-twintig

wat die wolke en die veld,

die sonlig en die weerlig

nooit weer sal belewe nie,

vir wie mamma nooit meer

’n toebroodjie sal smeer nie,

wat vir pa nie half vererg

oor nuwe wiskunde sal terg nie.



Westdene en die teken van die dood

 

Hierna die Westdene-ramp (27 Maart 1985) met skoolkinders aan die Hoërskool Vorentoe.

 

Die buurt: Triomf. Die bus se flikkerligte het aan en af geflits toe dit uitgehaal is en die afklimklokkie het glo nog gelui.

 

Pieter Koen, ’n matriekseun, het vyf ander kinders se lewens gered. Die sesde keer toe hy afduik, het hy nie weer opgekom nie. Danie Theron, wat sy skoolmaats uit die water gehaal het, het later gesterf weens selfdood. Hy is vereer met die Woltemade-medalje.

 

Ek besit steeds die Beeld-voorbladfoto met polisieduikers en kinders wat onder komberse lê met die voete verkeerd-in gedraai. Altyd die teken van die dood.

 

En ’n duiker in sy onderbroek wat vinnig ingespring het.

 

Só het ek hieroor gedig in Palinodes (Haum-Literêr, 1987):

 

Westdene

 

Gelukkig is julle

wat slaap

hermeties verseël

’n toe vuis.


Nooit sal pyn

se perforasie

(stigmata op

die polse) wys.


’n Bus verpas,

’n sinnelose

reis, nie weer.


Nimmermeer

die wagwoord

tussen mense

verleer. Nee.


Die ontoereikendheid

van ouers vergeef.

Slaap rustig,

slaap soet. Kinders


moet gehoor, nie

gevoel word.



Die lewe is nie ’n speurverhaal nie

 

Hierna die verdwyning van Madeleine McCann (3) op 3 Mei 2007 in ’n luukse Portugese vakansieplek, Praia da Luz.

 

Die ouers het saam met vriende buite geëet en telkens gaan kyk of die kinders veilig slaap. Om 22:00 was Maddie weg en het die soektog begin.

 

Die ouers was aanvanklik verdagtes met arguido-status. Die saga is eindeloos, selfs met ’n boek deur die Portugese polisiehoof, Gonçalo Amaral, wat die ouers as die verdagtes sien. Inmiddels moes hy sy woorde terugtrek.

 

Daar is verskillende dokumentêre gemaak en verskeie verdagtes uitgewys. Helaas geen closure nie. Die lewe is nie ’n speurverhaal nie.



’n Moderne Rooikappie?

 

Daar verdwyn daagliks kinders hier te lande. En in ander lande. Oorkant my woning is daar ’n park. Met ’n toilet. Hier het ’n ma en kind van twee gebly. In die nag kon ek die kind hoor huil: koud, nat, honger en dors. Vir weke. Waarskynlik alleen gelaat terwyl die moeder as nagwerker geld verdien.

 

Ek en my buurvrou het die maatskaplike werkers gekontak en hulle is verskuif na ’n veilige oord.

 

Maar presies wát simboliseer Joslin? Hoekom staan al die voorblaaie steeds langs my bed?

 

Is dit die armoedige pondokkie (met die blou slot)? Die Skoolmaatjies wat ’n plantjie op haar lessenaartjie laat? Die gemeenskap wat help soek na die kind en die stad Kaapstad wat hulp verleen?

 

Wat sou Alice Miller, die bekende kinder-psigoanalis in Thou Shalt Not Be Aware: Society’s Betrayal of the Child (1984), vir ons hieroor wysmaak? Sy wat so helder kon skryf oor kindermishandeling; dat diegene wat dit wél kon troef, groot kunstenaars kon word – soos Buster Keaton.

 

In hierdie geval was daar nie eens sprake van “versluierde wreedheid” nie. Ons weet by voorbaat dat Joslin (6) dikwels moes honger gaan slaap het, in die steek gelaat is deur roekelose (en afwesige) ouerskap en vir die wolwe gegooi is. ’n Nuwe weergawe van die Rooikappie-verhaal. In ’n plek waar armoede en swaarkry mense so aftakel dat reg en verkeerd nie meer bestaan nie.

 

Meer nog: dat dit die ongelooflike verskil tussen dié wat het en dié wat nooit sal hê nie, uitwys.

 

Hermeties verseël? Nee, dit bly ’n oop wond.

 

Prof. Hambidge is ’n Fellow en Senior Navorsingsgenoot aan die Universiteit van Kaapstad.

Saturday, February 24, 2024

Rubriek | Joan Hambidge - Wilgenhof en rituele | 2024

I

Waarom die bohaai oor Wilgenhof? Waarom sulke uiteenlopende stemme en stryd? 

Oud-Wilgenhoffers wat alles kontekstualiseer en briefskrywers wat eweneens terugkyk en onthou. Positief teenoor negatief.

 

II

In 1975 is ek ‘n eerstejaarstudent aan die Universiteit van Stellenbosch, meer spesifiek: Huis Erika. Die ontgroening staan my nie aan nie (‘n stoel bo die bed met ‘n glas water bo-op) en simpel uitstappies gereël deur seniors. Van studie is daar maar min sprake. Verpligte uitstappies met ‘n manskoshuis langs die Laan.

 

Sondae die Carpenters se geteem oor ‘n luidspreker in die eetkamer.

 

Ek verlang huis toe. Na my enkelkamer en my vryheid. Aant huise had ek meer vryhede en agentskap as in my eerstejaar waarna ek so uitgesien het.

 

In die koshuis (Blok B) is ons vasgekeer: twee in ‘n kamer in ‘n kubikel met ‘n beterweterige senior (L.O.) uit die domste hoogte. Daar is ‘n koffieruimte waarheen ek ontglip om te studeer. Soggens douvoordag probeer ek studeer; helaas, dit werk nie. Teleurgestel oor die afwesigheid van dit waarna ek uitgesien het.

 

Ek voel vervreemd. Word godesydank geskuif na ‘n enkelkamer om die hoek, omdat ek nie “inpas” nie. 

 

Hierna beleef ek die dubbelspraak van ‘n dameskoshuis en oortree die reëls.

 

Slaap selfs ‘n keer of wat oor in Helshoogte (heel veilig), omdat ek nie betyds my koshuis kon binnegaan nie. Iemand anders teken vir my in. Ek help by twee, drie geleenthede ‘n vriendin (ook laat) om oor die balkon te kom. 

 

Klippies teen die venster.

 

Met ‘n boyfriend wat van onder por en ek wat haar optrek. Een aand kry ons dit nie reg nie en ek (en sy) maak die louvres van die onderste blok oop. Sy klim deur. En die volgende oggend (ten spyte van my nougesette poging om alles te herstel), bliksem die glasstawe uit.

Onmiddellik word ek verdink. Wéér in die koshuismoeder se sitkamer met die primaria en die huiskom.

 

Ek kan nie my straf onthou nie. Ek onthou net die koshuismoeder (‘n oud predikantsvrou) se tirade en geskel.

 

En haar persoonlike, grensoorskrydende opmerkings.

 

Dit was in die dae van tiekiebokse. Ek bel my oudste suster, ‘n onderwyseres in Oos-Londen, wat in Harmonie was en sy troos my.

 

Hierna leef ek buite die koshuis. Kry ‘n kamertjie van ‘n vriend waarin ek tuisgaan, terwyl hy weg is op reis. My ouers dink ek is “gelukkig” in die koshuis. Ek lees en studeer in die kamertjie. Eet steeds in die koshuis. Moes hier bly weens beursverpligtinge.

 

Hier beleef geweldig baie: meisies met bulimi, anoreksia en oënskynlike straight meisies wat op ‘n bed lê en vry. ‘n Koshuismaat wat halfpad deur die jaar verdwyn en weer die volgende jaar stilswyend haar opwagting maak.

 

En my ouers woon ver in die ou-Transvaal. Ek is alleen en worstel met my gay-identiteit. Voel displaced as ‘n vreemdeling uit ‘n ander bestaan. En is boonop nie een van die hoofstroom nie.

 

III

Ek onthou Wilgenhof ook. Anders as die slegte beeld wat nou uitgedra word, het ek studentemaats in hierdie koshuis geken. Hulle was slim en intellektuele gespreksgenote. 

Meesal regstudente en ‘n paar tokkelokke saam met my in die filosofieklas.

 

Beskaafd en beleefd. Edwin Cameron, primarius van Wilgenhof en op die studenteraad. Uitmuntende student. Puik Latyn-dosent.

 

Wilgenhof was nie deel van die hoofstroom nie, as ek reg onthou.

 

IV

In hierdie dae is Arnold van Gennep se beroemde studie oor rites telkemale aangehaal. Van Gennep (1873 – 1957) wys op die oorgange van een toestand na ‘n ander in Les Rites de Passages (1909).

 

Van Gennep is in Duitsland gebore en het in Frankryk studeer.

 

Separasie, oorgang én samesmelting. En Van Gennep sou kon uitwys dat ek nie deel geword het van my koshuiskultuur nie. Ek het buite die ruimte gaan soek na my heil.

 

En die oorgange is prosesse van liminaliteite. (Dalk hierom dat ek so baie van ‘n hotelverblyf hou?) 

 

V

 

Hierdie debakel neem my terug na die film Dead Poets Society waarin Robin Williams (John Keating) klasgee aan die Welton Academy in 1959. Dit is vervaardig deur Peter Weir (1989).

Wat binne ‘n bepaalde ruimte gebeur en dan na buite oorvertel word, lei altyd tot misverstand. In hierdie film word die onderwyser geskors wat die jong seuns die betekenis van Carpe Diem leer én om die digkuns (en lewe) anders te benader. En die selfdood van Neil (omdat hy wil toneelspeel en sy pa dit nie verstaan nie), is ook die onderwyser se “skuld”. Die onderwyser word skuldig bevind (die sondebok), die kinders draai teen hom, todat een kind (Todd vertolk deur Ethan Hawke) die onderwyser verdedig met “O Captain! My Captain”.

 

(Uit Walt Whitman se gedig by die dood van Abraham Lincoln). Dit is tersaaklik dat die toneelstuk hier A Midsummer’s Night Dream is.

 

‘n Komplekse film wat ek hier inkort om te wys op die kodes van die groep (tot stilte gemaan) en die een wat sal uitpraat en verdedig. Die geskorste onderwyser wat wél geraak is deur die ondersteuning; al is dit te laat.

 

VI

Stellenbosch was ‘n ander tyd, ‘n ander plek, in ‘n ander land.

 

Vir sommige mense is ‘n tradisie belangrik. Dit laat hulle geborge voel en deel van ‘n groep. Terwyl ek hierdie stuk skryf, word ek genooi na my skool-reunie (1974).

 

Ek sal nie gaan nie. Ek beweeg altyd buite die groep, maar respekteer ander se sieninge oor samehorigheid en saamtrekke.

 

Hierom begryp ons waarom sekere oud-Wilgenhoffers voel hul herinneringe is aangetas deur hierdie onthullings. En as daar iets buite orde was, moes dit by tog die polisiekantoor aangemeld word?

 

Deesdae word boelies blitsig kortgevat. En gender-neutrale koshuise gaan gewoon nie werk nie. Mans het ‘n ander siening van liggaamlikheid as vroue. (Boonop sal daar verkragting en seksuele gedoentes wees.) 

 

En dit sal beslis nie ‘n oplossing wees vir rituele en rites nie. Kyk maar hoe spook Yale ook om alles uit te wis. Hazingdurf nie; maar kyk na rituele o.a. in sport, wat deel is van maskuliniteite.

 

En (vir die rekord): as alles gesaniteer en gesuiwer en skoon gemaak word, wonder ‘n mens wat is volgende? 

 

Daar word alreeds beswaar gemaak teen transgressiewe boeke. Een van die dae sal daar ‘n simboliese stofsuier alle ontoepaslike gedagtes uitsuig soos in ‘n SciFi-film.

 

Die temenos (heilige sirkel) verskil van waar jy staan. Kom ons respekteer eerder verskillende sieninge en onthoue.

 

Joan Hambidge is tans ‘n Senior Navorser en Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.

Monday, January 22, 2024

Resensie | JM Coetzee - The Pole and other stories | Penguin, 2023

JM Coetzee - The Pole and other storiesPenguin: 2023. ISBN:9781787304062, Sagteband, R350.00, 250pp.

Resensent: Joan Hambidge

 

In Lucy Daniel, die redakteur van Defining Moments in Books (Cassell Books, 2007), word ‘n foto opgeneem van J.M. Coetzee: voor ‘n spieël. En dis hoe ‘n mens hierdie skrywer moet benader:  As dubbelganger. Agter én voor die spieël. (En ons weet watter simbole alles aan die spieël gekoppel word.)

 

Coetzee is ‘n fiksieskrywer, maar terselfdertyd ‘n besinnende, denkende, filosofiese outeur soos in The lives of animals (1999) wat ‘n hibriede teks is. Iets tussen essay, literêre teorie en fiksie. Daar is eweneens outobiografiese romans soos Boyhood (1997) en Youth (2002). En The Master of Petersburg (1994) op die spoor van Dostojefksi, maar ook ‘n terugkaatsing op sy eie bestaan as skrywer en mens.

 

Veral David Attwell het uitstekende essays geskryf oor hierdie spel in JM Coetzee and the Life of Writing (2015).

 

Die jongste heet The Pole and other stories. Dit het oorspronklik in Spaans verskyn as El Polaco. (Coetzee is Spaans magtig.)

 

The Pole vertel die verhaal van ene Witold Walczykiewicz, ‘n pianis en Beatriz, wat help om sy konsert in Barcelona te organiseer. Sy is getroud en aanvanklik nie geïmponeer met sy toenadering nie. Maar dan gebeur dit wél, maar op haar terme. (Of só dink sy verkeerdelik.) 

 

Die verhaal roep uiteraard Jorge Luis Borges se private mitologie op rondom Dante en Beatrice. Borges het sy eie moeilike liefdesverbintenisse afgekaats teen Dante. Ons dink hier aan die Vita nuova. Witold is 72 jaar oud en herinner aan Max von Sydow, die Sweedse akteur. Dit roep die verbintenis op met die filmmaker Ingmar Bergman en sy vertolking van Knut Hamsun in die film Hamsun (1996) deur Jan Troell. ‘n Politiek-gelade film oor verraad tydens die Nazi-tydperk. Hamsun het in 1920 die Nobelprys verower; Coetzee in 2003.

 

Hiermee word die sosiale gewete van die skrywer subtiel ingebed in hierdie vertelling. Ons onthou die ANC se kritiek op Disgrace (1999) en hoe die ingeboude ironieë in die teks misgelees is.

 

Die verhouding tussen man en vrou in The Pole aktiveer eweneens George Sand (1804 – 1876) en Frédéric Chopin (1810 – 1849) se verhouding. Sand, ‘n feminis en ouer as Chopin, speel eweneens ‘n rol in die leeservaring van hierdie teks. Die vrou as versorger en ewige moeder? 

 

Die novelle se paragrawe word genommer. Ons het hier ‘n besinnende ouktoriale verteller teenoor ‘n personale (hy/sy) verteller wat moontlikhede ondersoek saam met die leser. Die novelle word ‘n soort dramateks en die leser wag op die klimaks (29). Die konvensies van musiek teenoor storie word netjies teenoor mekaar geplaas. Die hande van pianiste wat groot is en grotesk sou lyk op ‘n vrou. Hoe ou mense lyk en ruik, word raak beskryf.


En die verskille tussen tale en wat alles in ‘n vertaling verlore raak, kom aan bod. Die onbeholpe gedigte van Witold verklap sy wond en haar briewe bewys watter houvas die kortstondige verbintenis op haar steeds het. Geheime in huwelike teenoor die soeke na vervulling en romantiese liefde, maak die novelle nog sterker. Begeerte geplaas teenoor onvervulde liefde.

 

Coetzee is bekend vir “doubling the point” met subtiele verwysings in sy tekste na ander skrywers. Met prosa wat tot op die been gesny is. Waarom ‘n boek wat in Pole afspeel? Sy moeder se grootvader was ‘n Pool en in sy werk sien ons belangrike besinnings oor Poolse en Russiese letterkunde.

 

“Where would the art of fiction be if there were no double meanings? What would life itself be if there were only heads or tails, with nothing in between?” lees ons in “As a woman grows older”. En dit kan op hierdie komplekse tekste van toepassing gemaak.

 

Telkens die “irony of fate”, soos Cleanth Brooks & Robert Penn Warren dit perfek tipeer in ‘n analise van O’Henry se “The furnished room” in The scope of fiction (1960). Coetzee neem jou terug na Frank O’Connor se “The drunkard” waarin Chopin ook voorkom. Larry Delaney is ‘n karakter wat herinner aan O’Connor se lewe. O’Connor het ‘n studie oor Toergenjef geskryf.

 

Ons keer ook terug na Coetzee se stories waarin hy dikwels oor transgressiewe begeerte skryf.

 

‘n Novelle en vyf kortverhale. Meerduidig én terugwerkend na Elizabeth Costello (‘n buikspreker vir Coetzee) en die skrywer se besinnings oor diereregte. ‘n Storie oor ‘n woedende hond laat jou sidder in “The dog”. Die vrees van die besoekende vrou laat jou wonder oor die hond se base. 

 

Het katte gesigte of nie?, word in “The old woman and the cats” gevra. Skokkende ervarings van ‘n ouerwordende moeder in “Hope”. En hoe die seun haar vertel van die hond, Demeter, wat aanhou veg het om sy lewe, pyn ten spyt. Ambivalensie dra die verhaal “As a woman grows older” in haar konfrontasie met haar kinders. “The glass abattoir” analiseer mense se ongevoeligheid oor diere rondom ‘n ingebedde vinjet in Djibouti. ‘n Bok wat geslag word, beskryf in grafiese besonderheid met ‘n analise oor die betekenis van pyn. ‘n Simboliese judasbok?

 

Coetzee is ‘n meester van sub-teks én implikasie. Hy het hierdie leser nogmaals verbyster met sy onverdrote kapasiteit om télkens nuwe moontlikhede in die skryfambag te ontgin. Van die vleiland tot die billabong. Politiek-bewuste tekste tot metafiksie soos in Summertime (2009). Kortverhale tot lang, uitgebreide stories soos die Jesus-trilogie. Essays oor ander skrywers is altyd leersaam wanneer ‘n mens Coetzee lees. Ons onthou hoe hy ‘n Engelse vertaling van ‘n Harry Mulisch roman stip uitmekaar gehaal het soos ‘n sjirurg met sy kennis van Nederlands. 

 

Musiek, films, geskiedenis, politiek, sosiale kwessies (o.a. die verlange na die telegram), die rol van private dokumente, maak alles deel van hierdie pakkende boek.

 

Hierdie leser het onlangs weer In the heart of the country (1977) gelees. ‘n Boek met 266 genommerde paragrawe eerder as hoofstukke. En sy 1974 debuut Dusklands, twee verhale, maar ook ‘n roman. O.a. ‘n reisverhaal in die 18e eeu. Die kritikus Jason Cowley wys op Coetzee se voorliefde vir die allegorie en simbool in Lucy Daniel se kompendium. En die isolasie van die meeste van sy stemlose karakters.

 

As Borges werk met die labirint, sien ons die spieël by Coetzee. Beide outeurs is sterk beïnvloed deur Franz Kafka. Al waarvoor ons nou wag, is ‘n roman in Afrikaans. Die prosa in hierdie puik boek is soos lug wat afgekaats word in ‘n poel water soos by MC Escher.


Met hierdie boek het hy sy tweemalige bekroning as Bookerprys- en Nobelpryswenner nogmaals en absoluut bevestig. Om op 80 plus so te kan skryf, is ‘n absolute segetog.

 

Joan Hambidge is ‘n Senior Navorsingsgenoot aan die UK. Haar jongste roman heet Stasies.

Friday, January 19, 2024

Resensie | Duncan Brown, Kobus Moolman, Nkosinathi Sithole (Reds.) - Notes from the Body: Health, Illness, Trauma | University of Kwazulu-Natal Press, 2023

Duncan Brown, Kobus Moolman, Nkosinathi Sithole (Reds.) - Notes from the Body: Health, Illness, TraumaUniversity of Kwazulu-Natal Press, 2023. ISBN: 978 1 86914 532 3 


Resensent: Joan Hambidge

 

 

I. Grievable lives: Mournable bodies

 

Hierdie boek bevat uitsonderlike bydraes oor liggaamlikheid. Notas (d.w.s kanttekeninge) oor die liggaam met die sub-titel wat gesondheid, siekte en trauma oproep. Ons dink onmiddellik aan Susan Sontag se Illness as metaphor. En Annie Leibovitz se fotogalery van haar siekte en hospitalisering. En haar dood. Hierdie foto’s het wye polemiek ontlok rondom die etiek van die plasing van die foto’s. Veral Sontag se seun, David Rieff het dit as betredend en grensoorskrydend beskou.

 

https://tembusu3.nus.edu.sg/treehouse/2015/04/mortality-in-photography-examining-the-death-of-susan-sontag/ Besoek 14 Januarie 2024

 

By die ontvangs van Notes from the body lees ek drie bydraes Hélène Smit se “Architeutis”, “Survivor” van Stephen Devereux en Bronwyn Law-Viljoen se “Notes from an Archive of the Body in Movement”. 

 

En dadelik is hierdie leser meegesleur oor verskillende vertelperspektiewe: oor kindermolestering en hoe die liggaam ‘n museum word waarin pyn geberg word of waar siekte metafories ‘n betredende huisgas word of waar die liggaam in oefensessies ‘n indeks of argief word van die potensiële adaptasies wat die liggaam kan maak.

 

I wrote a review on Notes on falling in 2022.

http://joanhambidge.blogspot.com/2022/09/resensie-bronwyn-law-viljoen-notes-on.html Besoek 18 Januarie 2024

 

 

II Written on the body

 

Post Covid. Illness as metaphor. Masks. Uncertainty. People dying. Debates on Vaccination. 

 

On my Covid-19 Vaccination Record Card:18.9.2021 and 30.10.2021: Phizer. A black and couloured nurse assist me in the City hall close to NG Kerk and police station in Durbanville. Two kind ladies. We laugh and joke.

 

“Moenie bang wees, nie Antie.” Ek speel saam. Rol my oë. Maak of ek omtiep. Hulle lag. Geen pyn nie. Geen swelsel nie. My ervaring van ‘n geelkoorsinspuiting was veel erger met ‘n arm wat opgeswel het met erge koors.

 

Jokes as means of survival. Duncan Brown relates a joke in “Unmade”: Sarah goes for a job interview as a typist.

The manager asks, ‘Sarah, wat is jou ervaring van tik?’

‘Nee, niks nie, Meneer,’ she replies. ‘Met my is dit net dagga en dooswyn.’

Die grap wat tydelik verdoesel. Net tydelik.

 

 

III. Even Cowgirls get the blues  

 

Barbara Johnson: "It seems to me that women are all trained, to some extent, to be deconstructors. There's always a double message, and there's always a double response. The difficulty for women, is unlearning self-repression and ambiguation and conciliation, and reaching affirmation." (Salusinszky, 1987, 151)

 

Johnson word gediagnoseer met cerebellar ataxia in 2001 en sterf in 2009, hierdie gedugte vertaler van Derrida en student van Paul de Man. In haar lewe professor in Engels en Vergelykende Letterkunde by Harvard. En ‘n vertaler van Derrida.

 

Hoe ironies dat Johnson, die groot intellektueel, só moes sterf.

 

Die bydraes van en deur vroue laat my nadink oor die volgende:

 

1 die huis as ‘n ruimte van angs;

2 hoe ons ‘n nuwe woordeskat moet aanleer ná ‘n traumatiese ervaring;

3 die vrees vir mislukking wat vele vroue moet hanteer in ‘n fallogosentriese samelewing;

4 genesing as ‘n komplekse proses;

5 die chaos wat pyn skep.

 

Maar dit sluit nie mans uit nie. Die ervaring van pyn in ‘n hospitaal (“Staring Death in the Eye” deur Vonani Bila) wys dat siekte ons anders laat kyk na die liggaam wat manlike beheer omverwerp. En dat siekte jou “merk” en  vervreem van ander (soos in “Unmade” deur Duncan Brown).

 

 

IV. We sing the body electric

 

The impact of physical and psychological wounds are presented to the reader: gender violence, disablities, rape, racial prejudice, poverty, adoption, cancer, embolism, AIDS, depression, cynanthropy, bipolar disorder, Covid, the ICU, substance abuse, private hospitals versus state hospitals, medical insurance …

 

Private notes versus poems. Afrikaans versus Sepedi and Xhosa. Antjie Krog in translation. Joseph Campbell versus Kafka.

 

Die Gannavlakte en Athlone. New York teenoor Kaapstad.

 

Double voicing in “Lines Land Slant” by Anthea Garman and Gillian Rennie.

In hierdie pakkende analise tussen twee vroue word die impak van borskanker ondersoek. En die impak van die mastektomie op ‘n vrou.

 

Self-analysis in “Finding the Words in Ten Movements” by Philippa Yaa de Villiers. “Every poet is a library on legs …”(174).

 

Verskillende skryfkonvensies: van dekonstruksie tot lang, orale gedigte wat ‘n mens moet hóór. Tekste wat opbreek in verskillende afdelings wat die pynlikheid van ‘n bepaalde ervaring onderstreep. Asof die skrywer onderbreek word deur sy/haar pyn.

 

 

V

 

Siekte maak jou broos en weerloos. En maak jou bewus van jou liggaamlikheid wat jy alte dikwels as vanselfprekend aanvaar.

 

Ironies genoeg is hierdie bespreking geskryf, terwyl ek siek was met ‘n somer-griep en hoesbuie.

 

En Krog som dit alles perfek op:

 

dit rammel sag

 

dit rammel sag. die aarde lig haar skedel.

vanuit die binnevlerk van wolke veer

die donderweer al met die stil verhemeltes

van berge langs. ‘n tiptol stip die mees

 

intieme plek aan in die esdoringboom –

die plek waar die stam die stilste boomwees hou.

o, roerloos wag die boom. die weerlig stroom

uit vlakke blou, die veld voel hoe haar ganse

 

vel oopsnou na die geur van dragte vol

geloftes. in haar hare bloei die rose.

haar laaste koelte damp vanuit haar oksels

 

sy knoop haar lang hart los. nog nooit was sy

so karig, so alleen, of het sy so

gesmag na reën wat net nie, nooit nie kom nie

 

*

Die eensaamheid van siekte; hoe die ganse vel oopsnou … 

Body bereft. Dis waaroor dit hier gaan.

 

Joan Hambidge is a Fellow and Senior Researcher at UCT.

Poet and novelist.

Januarie 2024

Bronne: 

Butler, Judith. 2016. Frames of War: When is Life Grievable?  New York: Verso.

 

Freud, Sigmund. 1916/1976. Jokes and Their Relation to the Unconscious. Pelican Freud Library volume 6. Londen: Penguin. (Vertaal deur James Strachey en hersien deur Angela Richards).

 

Gallop, Jane. Maart 1979. "Why Does Freud Giggle When the Women Leave the Room?". Lesing gelewer in die Women and Humour Section, Nemla-kongres. Connecticut: Hartford.

 

Krog, Antjie. 2006.  VerweerskrifKaapstad: Umuzi.

 

Law-Viljoen, Bronwyn. 2022. Notes on Falling. Cape Town Umuzi.

 

Salusinszky, Imre. 1987.  Criticism in Society. Londen: Methuen.

 

Sontag, Susan. http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=sontag+illness+as+metaphor

Besoek 12 Januarie 2023

 

Endnote:

 

Fisting-as-écriture

Joan Hambidge

 

Moes deur baie pyn

om mens te word,

artikuleer ons digter 

op die Dam; moes deur 

veel veg

om self te vind,

van hier tot in verre plekke

terug in die gevegsone van die digkuns

immers ‘n binne-geweld wat beskut

teen buite-geweld: 

ek-sing-oor-die-liggaam

se oorskot, ek lees

Eve Kosofsky Sedgwick

se Die weer in Proust

en elders, ja elders

is dit altyd mooi weer en warm

vir hulle gebore met regte

en voorregte,

nooit weet hoe 

dit voel as jou tong

as kind uitgesny is.

Uitgeskuif, weggedruk.

Hierom die vuis-in-die-lug,

daarom die woede

by ons, ‘n myn - ‘n dyn,

die Afwykendes, die derde seks,

die transgender, die deviant:

smagtende na stilte     

ná hierdie oorlog, ‘n El-Alamein.